05/06/2020
Ons voel dieselfde
(Op die oomblik is daar baie verdriet en swaarkry in die land... Soms kan 'n mens nie help om jou eie ontsnapping te beplan nie.)
DAGDROOM 2020
Jy wil die masker van jou gesig haal en in jou bakkie klim en begin ry, deur Vredenburg en Velddrift, kuslangs tot by Elandsbaai, met die wind wat by die bakkie se oop ruite instroom, verby Graaffwater, regulasieloos die binneland in.
By Clanwilliam wil jy nie die N7 vat nie. Jy wil met Pakhuispas oor die Sederberg gaan, verby Leipoldt se graf, deur die Hantam waar die boegoebossies bloei, op die spoor van Boggom en Voertsek, deur die Boesmanland. Van Wyksvlei. Carnavon. Sonder om na die radio in die bakkie te luister, en met jou slimfoon afgeskakel.
Jy is moeg vir die menings van ontleders en kenners en CNN-wyses wat al vir weke lank aanhou stilsit en geraasmaak. Jy is moeg vir jou eie en ander se woede en verdrietige stories en haastig gebroude pynappelbier.
Deur Vosburg en verby ’n spannetjie swerfklippe duskant Britstown, verby die haltetjie Dwaal in die dor Karoo. Jy wil ’n verlate plaashuis met hooibale op die voorstoep sien, en ’n wilgerboom met slap takke in ’n laagte by ’n spruit waarin die laaste waterlelies blom. Jy wil uitkyk vir ’n plaashek met ’n geroeste ketting en -slot, ’n Climax-windpomp en ’n sinkdam met kalkaanpaksels in die laste. Jy wil luister na ’n Lister-enjin se ge-pip-pip-pip, en hoor hoe ’n telefoondraad tussen twaalf en een in die middag suis, en ’n dikkop in die langgras roep. Jy wil skaapmis ruik.
Jy wil Johannesburg in die verte gewaar, die geboue oneweredig soos ’n hartlyer se hartklop op ’n hartmonitor. Jy wil op die N1 verby Soweto se huisies se dakke ry, en weer soos ’n kind glo mynwerkers het Johannesburg uitgehol onder, en al wat jou veilig sal laat voel is ’n mixed grill en ’n strawberry milkshake by Uncle Charlie’s Road House wat nie meer bestaan nie. Deur Pretoria, uit met Schoemanstraat onder Arcadia se kaal jakarandas deur, verby die land se enigste werkende telefoonhokkie in Hatfield. Uit met die N4, oor die Hoëveld waar dit oop is, deur Witbank se Eskom-wolke, verby die afdraai na Woestalleen, af in Schoemanskloof; en opeens sal die reuk van gebrande suikerriet in die lug wees. Jy wil ’n lemoen eet, ’n lemoen, ’n lemoen, en ’n stukkie nartjieskil tussen jou vingers buig en knak.
Jy wil ‘n yskoue Black Label-quartbottel teen jou wang druk en op ’n omgekeerde bierkrat sit en kwela-musiek moet uit ’n Pakistani se winkel kom wat eers ’n slaghuis was, en by die deur moet ’n vaal brak met sy neus teen sy stert lȇ en slaap en teen die muur moet ’n dikwielfiets met ’n klokkie en twee spieëltjies rus.
Jy wil ’n kwȇvoel hoor kwȇ, en deur die ou Natal ry terwyl keeza-reën oor Vodacom-torings uitsak. Jy wil ’n bord rys, vleis en aartappels op Vrede eet.
Jy wil na ’n wolk bokant Bethlehem kyk en jou verbeel dis ’n donkie. Jy wil buite Clarence sien hoe word ’n Maggie Laubser-skildery ’n laning goudgeel populiere.
Jy is al vir meer as vyftig dae inkerker is jou Weskus-huis.
Jy verlang na jou land. Jy wil ’n slag ry, jy wil net ry.