23/05/2017
Ek herhaal weer die storie want hy is verwerk. Volgende week skryf ons verder.
KARWYDERSKRAAL EN MISS ELLA GORDON
Vandag draai ons regs uit die R320, die pad deur die Hemel-en-Aarde vallei , en ons besoek Karwyderskraal. Die bordjie lees De Bosdam en Karwyderskraal.
Dit is die storie van Miss Ella Gordon.
Karwyderskraal of Plaas 584, se eerste eienaar was Michiel Joseph Roux en vanaf 1874 het die plaas verskeie eienaars gehad totdat Miss Gordon dit vroeg in die 20ste eeu van die Moravian Indigenous Ministers gekoop het. Miss Gordon het in 1901/2 eers die Braemarplaas, wat nou deel van Hamilton Russel vorm, besit. Hierdie hele gebied was die Hemel-en-Aarde plaas en is later in 4 verdeel. Karwyderskraal is een van die onderverdeelde areas.
Isabella Gordon Dove Colston, bekend as Miss Gordon, is op 18 January 1873 in Skotland gebore.
Haar ouers was middelklas en haar Ma het gesterf toe sy maar 7 jaar oud was.Sy het tuisonderrrig ontvang en onder andere later musiek en drama studeer. Haar Pa is in 1897 oorlede waarna sy na Frankryk gereis het. Sy was toe 24 jaar oud en daar was sy deel van ‘n teater en sirkusgroep . Dit is waar haar liefde vir perde ontstaan het.
Sy het in ongeveer 1900, as deel van ‘n teatergroep, na Suid-Afrika gekom. Alhoewel sy getroud was het haar man nie saamgekom nie, maar wel gereeld vir haar geld gestuur. Miss Gordon het in die Tivoli-teater in Kaapstad opgetree en dit blyk dat hierdie tydperk haar in staat gestel het om baie rolle te speel, of dit nou deel van 'n sirkus of teater was. Die vermaaklikheidsbedryf het egter swaargekry met die aanvang van die Anglo-Boereoorlog en Ella moes ‘n ander beroep oorweeg.
Sy het vir Clara Marie Markgraaff, ‘n musiekonderwyseres, in Kaapstad ontmoet. Clara se neef was Pastoor Schaberg, ‘n Morawiese minister van Genadendal, en Miss Gordon het deur hulle twee gehoor van die Overberg en van die Hemel-en-Aarde vallei.
In 1902 koop sy die Braemerplaas en boer 7 jaar daar voordat sy verkoop en na Karwyderskraal verhuis. Miss Gordon was ‘n sterk mens wat die swaard, pistool en geweer goed kon hanteer. Sy was ook ‘n knap bokser en het een keer twee jong manne goed gelooi toe hulle smalende aanmerkings oor haar gemaak het. Met haar kort grys hare, pyp in die mond en mansklere, was sy maar altyd ‘n geheimsinnige raaisel vir haar bure.
Sy was ook ‘n bekende in Hermanus wat Saterdae met haar perdekar dorp toe gegaan het. Wanneer sy haar produkte Botrivierstasie toe geneem het, het sy dit self op- en afgelaai.. Sy kon ‘n mudsak koring wat 200 pond (90kg) weeg, met gemak oplig. In die ou dae het sy self met haar wa en span muile Kaap toe gegaan om haar koring te verkoop.
Miss Gordon het self haar huis gebou met bakstene wat sy eiehandig gemaak het. Haar huis was individualisties met frescos’s op die mure geverf en sy het ook haar eie meubels gemaak. In haar testament versoek sy dat haar meubels nie verkoop mag word nie maar ongelukkig is dit toe wel verkoop. Blybaar is een van die meubelstukke aan Anthony Hamilton Russel verkoop en ek is seker hulle pas dit mooi op.
Clara Markgraaff het vir ‘n tyd saam met haar op die plaas gewoon en al die kook- en huiswerk gedoen want Ella het nooit daarvan gehou nie. Later het Clara na Genadendal verhuis waar sy in 1940 oorlede en begrawe is. Ek het haar graf in Genadendal gaan soek maar dit nog nie opgespoor nie.
Ella het konserte en toneelstukke vir die kinders van die Karwyderskraal-omgewing aangebied asook by die Caledon Amateur Dramatiese Genootskap. Sy was baie gesteld op dissipline en het van almal op die plaas verwag om Sondag kerkdienste by te woon. Wyn is op die plaas verbied asook die aanplant van wingerd. Sy was haar lewe lank ‘n vegetarier en het ‘n gesonder gemeenskap aangemoedig. Die Morawiese sendelinge het gereeld van Genadendal gekom om dienste te hou.
Miss Ella se groot liefde was haar perde en honde. Hulle kon betyds uitstap saam met die musiek en Ella het elke dag haar perde gery. Haar wit perd, Boysums kon baie truuks doen, dans saam met die musiek en sy grafsteen in die perdebegraafplaas lees: Boysums, die Wonder Horse. Wanneer ‘n perd doodgegaan het, het hul 'n spesiaal ontwerpte, formele begrafnis gekry. Daar was uiteindelik dertien grafte, met ‘n grafsteen elk waarop die geskiedenis van die perd netjies aangedui is.Werkers moes die grafte stadig toegooi en met baie respek. Hierdie perdebegrafplaas is enig in sy soort in Suid-Afrika.
Ella is in 1958 op 85-jarige ouderdom dood en is langs haar hond, Woppy, in die Klein Karwyderskraal begraafplaas ,langs die perde se begraafplaas ,begrawe. Haar testament is versigtig voorberei en die hoofbegunstigde was die Morawiese Kerk van Suid-Afrika. Daar was streng voorwaardes rakenende haar diere en die werkers van die plaasgemeenskap. Sy het ook genoeg geld nagelaat vir die bou van ‘n nuwe skool.. Die ou skool is as koshuis ingerig vir kinders van verafgelee plase.
Phillip Engel van Genadendal skryf vir my op Facebook dat hulle die kinderfeeste op Karwyderskraal bygewoon het en die perdebegraafplaas besoek het. Ek is baie gelukkig want agv die storie op Overberg Plekke en Mense kontak John Rosant, van Grabouw, Saterdag vir my.
John se oorlede Pa, Frederick Rosant, was die skoolhoof in die skool wat Miss Ella met haar eie hande gebou het. Hy was daar vanaf 1952 tot 1962 en John het hier skoolgegaan vanaf Klein Sub A tot St 5. Hy het sy skoolloopbaan by Emil Weder, hier in Genadendal, voltooi. As klein seuntjie het John ook in Miss Ella se konserte gespeel.Tot vandag onthou hy nog ‘n uittreksel van een van haar konserte wat lui: “Bill, I sentence you to five years hard labour” Die kinders kon nie lekker Engels verstaan nie maar moes alles woord vir woord leer. Wanneer dit by sy sin gekom het, het die mense geskaterlag, en hy kon dit nooit verstaan nie. Miss Gordon het altyd, so met haar krom vinger vol artheritis, vir hom kom se: Wys so na Bill. Hy het dit letterlik opgeneem en met krom vinger beduie. John was in 1958 op Ella se begrafnis op Karwyderskraal. Deesdae woon John in Grabouw saam met sy vrou, Naomi, en hul kinders. Sy het vir ons die lekkerste klein vetkoekies met maalvleis bedien en die beste tee ooit.
Ek en John het nog lank nie genoeg gesels nie maar hy het vir my al sy boeke oor die vrou en haar perde geleen. Dan is daar ‘n handgeskrewe stuk deur sy Pa oor Ella Gordon, wat ook in John se boek, Uit die Rooidraaihuis onder die Vloer, verskyn. Hierdie boek gaan meer oor sy jare by Goedverwacht, die Morawiese Sendingstasie in Piketberg. Ons het ook gesels oor Die Huisvriend en hy het vir my 'n paar geleen. Tog bitter jammer dat dit nie meer bestaan nie.
Deel van die boeke is ook ‘n PREMIER excercise skryfboek, wat baie oud lyk, in hooghollands geskryf en dit lyk of daar twee drama’s in is. Aan wie dit behoort het, is nie seker maar wel interessant. Die bekende dramaturg, Charles Fourie, het die verhaal van Ella se Perde in ‘n drama geskep en dit is in 2014 tydens die Kalfiefees in Hermanus aangebied. Die verhaal het baie reaksie uitgelok en RSG het met John gesels omdat sy Pa een van die karakters uitbeeld. Die onderhoud is op 14/11/2014 deur Amore op Tjailatyd uitgesaai. Dit is nog beskikbaar as jy dit wil gaan soek. Ek het dit ook op ons fb blad :Overberg Plekke en sy mense gesit.
Volgende week wil ek graag Jhn se Pa se skrywe voorlees oor Miss Gordon. Dit is so mooi geskryf en mens kan nie die kans verby laat gaan nie.
Vandag is daar min van haar nalatenskap wat oorgebly het. Haar huis by Karwyderskraal staan nog steeds maar in 'n vervalle toestand, en haar Voelklip-huis, wat sy ook gebou het, en somervakansies deurgebring het, is nie meer herkenbaar na vele restourasies nie.
My droom sou wees dat hierdie deel van die geskiedenis bewaar word en dat die kerk aandag sou gee aan die huis waar sy gewoon het asook die begraafplase. Dalk kan ek eendag geld insamel en so ‘n projek aanpak. Dan hou ons weer ‘n kinderfees en basaar op Karwyderskraal en eer Miss Gordon. Of dalk kan ons ‘n TV reeks doen.
Miss Ella Gordon sal beslis onthou word as een van die kleurvolle karakters van die Hemel-en-Aarde en Hermanus.
Baie dankie aan SJ du Toit wat Spore oor die Overberg geskryf het asook aan die Hermanus History Society onder leiding van Robin Lee en aan John Annandale (hy is ongelukkig ook oorlede) wat die boek : Ella Gordon and her TrickHorses at Karwyderskraal geskryf het. Ek sal bitter graag so ‘n boek in die hande wou kry maar dit is nerens te vinde nie. Dankie John Rosant vir die leen van jou boek.
As u belang stel in die stories gaan soek dit gerus op my facebook oor die Overberg: dit is Overberg Plekke en sy mense. Volgende week kuier ons met Frederick Rosant en daarna gaan maak ons ‘n draai in Ertjiesvlei, ook op die Hemel-en-Aardepad.