26/04/2020
26 April 2020 : bericht - ingevolge de Covid 19 sluiting van de nationale parken - over groeiende spanningen met dieren in Pilanesberg National Park. Moment om jullie Afrikaans een beetje aan te scherpen
Hier volg ‘n noodberig!
Dit is blykbaar chaos by die hekke van die Pilanesberg Nasionale Park in die noorde weste van Suid Afrika!
Die Beeld berig dat ongekende rampokkery, klippe skop, stofmaak en onaardse geluide die eens elegante park ontsier. Almal word versoek om vir die volgende twee ure die Hoofhek net buite Bakabung te vermy!
Almal is keelvol vir die grendelgreep wat die Nasionale Regering geplaas het op die besoek van toeriste aan die Park, met die gepaardgaande verlies aan Miljoene Rande aan inkomste.
Chacma Werfbobbejaan, wat as segsman en spreker vir die ontstoke stakers optree sê hulle is nou behoorlik gatvol (sic) vir die feit dat daar nie toeriste is nie.
Camilia Kameelperd sê dat haar hele modelloopbaan is in sy happy-kanon (sic) in, g’n foto’s van haar haal meer die National Geographic nie, sy het nou die dag probeer om by die watergat by Makorwane so lekker wydsbeen te staan om water te drink, gewag op honderde kamera’s wat flits, maar nee, daars niks. Sy drink nou al weke lank water soos ’n gewone mens, en sit met ’n senuwee wat knyp in haar boud omdat sy nie gereeld “stretch” nie.
Koning de Leeuw en Sareltjie Springbok is nét so ontsteld, hulle onderlinge gejagmakery op mekaar, Leeu wat kwansuis vir Springbok vang, sy mond vol All-Gold Tamatiesous rondswaai dat die "bloed" so spat het nou vier weke laas gebeur, hy voel sommer - die rumatiek in sy heupe - is terug! Waarvoor nou op mekaar jagmaak, wie is daar om dit te aanskou?
Amarulla Olifant sê dat hy hom nou al morsdood verlang na ’n Franse Toeristegroep in ’n omgeboude Land Cruiser, sy gunsteling tydverdryf is om daar by Tlou Link ’n “mock-charge” te doen, ore flappend, slurp gepunt. Daar is niks vir hom so sag op sy ore soos die benoude angs-gille van ’n vroulike Franse toeris nie.
Die klein Bobbejaantjies kla sommer álmal gelyk, niks oorskietkossies in die asdromme nie, niks om te dêps uit die borde van der-honderde naïwe stoppers by die vele stilhouplekkies langs die paaie nie.
Rain Jagluiperd sê dat haar werpsel nou al byna ses weke oud is, niemand het hulle nog gesien nie, en eersdaags is hulle te oud vir die Nat-Geo se Internasionale Babakompetisie, wie gaan hulle afneem en die foto’s aanstuur na Nat-Geo as daar nie kamera’s in die Park is nie?
Gabriël Kudu sê dat as hulle nou skielik weer so mooi in ’n ry gaan moet aanstap na die watergat by Mankwe, sal die kleintjies eers weer in lyn gebring moet word. Die het lankal hulle maniere vergeet noudat daar nie toeristekinders is, wie se navolgenswaardige voorbeeld van ysere dissipline, nagevolg kan word nie.
Die diere is dit eens dat hierdie grendelgreep nie vir hulle, as verteenwoordigers (en shop-stewards) van die breër dieregemeenskap, nog veel langer só kan aangaan nie. Want waarom is daar ’n Wilde Nasionale Pilanesberg Dieretuin, as die mense nie kan kom kyk nie? Waarom is daar diere as hulle nie toeriste kan vermaak nie?
Die onmiddellike plan is 'n plan van lydelike verset (met 'n drie dae lange honger/eetstaking). Die diere dreig om nét daar by die hek te bly staan, tot hulle geliefde toeriste weer arriveer!
"Die saak moet nou na ‘n kant toe!" het Chacma Werfbobbejaan die onderhoud afgesluit.
"En dringend!"
(met dank aan Fanus Hansen)